Kampioenetrofee 2009

Kampioenetrofee 2009

Kenteken van die Kampioenetrofee 2009
Datums 22 September – 5 Oktober
Bestuurder Internasionale Krieketraad (IKR)
Krieketformaat Internasionale eendagkrieket (EDI)
Toernooiformaat Groep- en uitklopfase
Gashere Vlag van Suid-Afrika Suid-Afrika
Kampioen Vlag van Australië Australië (2de titel)
Naaswenner Vlag van Nieu-Seeland Nieu-Seeland
Deelnemers 8
Wedstryde gespeel 15
Speler van die reeks Vlag van Australië Ricky Ponting
Meeste lopies Vlag van Australië Ricky Ponting (288)[1]
Meeste paaltjies Vlag van Suid-Afrika Wayne Parnell (11)[2]
2006
2013

Die Kampioenetrofee 2009 (Engels: 2009 ICC Champions Trophy) is van 22 September tot 5 Oktober 2009 in Suid-Afrika beslis. Dit was die sesde Kampioenetrofee in EDI-krieket wat deur die Internasionale Krieketraad (IKR) aangebied is. Anders as die gewone interval van twee jaar is dit by uitsteek drie jaar ná die vorige Kampioenetrofee 2006 aangebied. Oorspronklik sou die toernooi in Oktober 2008 in Pakistan aangebied word, maar weens veiligheidskwessies is dit met een jaar uitgestel en aan Suid-Afrika oorhandig.[3] Daarbenewens was dit ná die Krieketwêreldbeker 2003 en die T20I-wêreldbeker 2007 die derde groot kriekettoernooi in Suid-Afrika.

Die destydse agt beste nasionale spanne op die EDI-ranglys het aan die Kampioenetrofee 2009 deelgeneem: Australië, Engeland, Indië, Nieu-Seeland, Pakistan, Sri Lanka, Suid-Afrika en Wes-Indië. Die spanne is in twee groepe van vier elk verdeel, waarvan elke span een keer teen al die ander spanne van die groep gespeel het. Die twee beste spanne van elke groep het hierna vir die halfeindrondte gekwalifiseer en die wenners het mekaar in die eindstryd ontmoet.

Australië, Engeland, Nieu-Seeland en Pakistan het vir die halfeindrondte gekwalifiseer. Australië het Engeland en Nieu-Seeland het Pakistan geklop, waardeur die twee Oseaniese spanne in die eindstryd ontmoet het. In die eindstryd op die SuperSport-park in Centurion het die verdedigende kampioen Australië Nieu-Seeland met ses paaltjies verslaan en sodoende sy tweede Kampioenetrofeetitel gewen. Die gasheer Suid-Afrika is reeds in die groepfase uitgeskakel.

  1. (en) "Records in ICC Champions Trophy, 2009/10 – Most Runs". ESPNcricinfo. Besoek op 25 Junie 2023.
  2. (en) "Records in ICC Champions Trophy, 2009/10 – Most Wickets". ESPNcricinfo. Besoek op 25 Junie 2023.
  3. (en) "South Africa confirmed as Champions Trophy hosts". ESPNcricinfo. 2 April 2009. Besoek op 25 Junie 2023.

Developed by StudentB